deur Manie Swarts
Ek het dié foto’s gedurende Desember 2008 geneem, toe die Dikkop in ons agterplaas gebroei het.
Ek het die nes in ‘n oop ruimte tussen perdemis gesien. Die voëls lê twee eiers, wat dan na ± 24 dae uitbroei. Ek het die nes behoorlik opgepas, in afwagting op die koms van die kuikens! Groot was my teleurstelling, want gedurende dié tyd het daar een middag ‘n harde bui reën met hael geval, wat die nes oorstroom het met yswater. Ek het probeer om die water weg van die nes te ly, maar net een kuiken het uitgebroei. Dit was baie moeilik om die kleintjie te sien, omdat hy so goed gekamoefleer is.
Die voëls is naglewend en word selde bedags gesien. Hul verkies oop dele met kort gras. Op die oomblik kry ek hulle in die nag, waar hulle onder ‘n straatlig insekte vang.
Terloops, die kuiken is nou amper volgroei. Hulle harde geroep word dikwels vroegaand of na ‘n reënbui gehoor. Hulle is nou baie tuis in ons tuin en om die huis!
